Swanger seks Featured

Deur Ilze du Toit

 

Swangerskap, hoewel wonderlik, is nie sonder sy uitdagings nie. Jy deel jou liggaam met ’n ander mens, dra baie ekstra gewig rond en dis nie eers gepraat van die skielike toename in vreemde hormone nie. Dis ook dié konkoksie van vreemde hormone wat deur jou are pomp wat veroorsaak dat jou seksdrang hoër as gewoonlik kan wees tydens jou tweede trimester. Baie paartjies is bang om intiem te raak tydens ’n swangerskap, maar tensy daar anders vermeld word deur jou dokter, is seks tydens swangerskap heeltemal veilig vir al die betrokke partye. Daar is wel ’n paar dinge om in gedagte te hou om die ervaring so gemaklik en genotvol as moontlik te maak. 

 

Sodra jou magie begin wys, sal jy vinnig agtergkom dat jou eens soepel en buigsame liggaam, iets van die verlede is. Moenie bang wees om iets nuuts te probeer nie, maar baie swanger vrouens erken dat daar slegs ’n paar seksposisies is wat vir hulle en hul maat gemaklik is. Moet liefs nie enige vreemde 50 Shades of Grey passies probeer as jy nie volkome gemaklik is daarmee nie. Seksposisies wat druk en gewig van jou maag af haal, behoort die beste te werk. 

 

Daar is allerlei mites rondom seks tydens swangerskap, maar wetenskaplike navorsing het bewys dat seks veilig en selfs goed kan wees vir jou. Dit verlaag jou bloeddruk en as gevolg van die toename in bloed naby jou genitalië, kan dit ook meer genotvol wees. Jou borste en vel kan ook meer sensitief wees wat die kans vir ’n orgasme meer maak (bonus!).’n Gelukkige, ontspanne moeder sorg vir ’n gelukkige en ontspanne baba. 

 

Elke trimester en vrou is anders, maar vanaf week 12 of 13 behoort jy gemakliker te voel in jou eie lyf. Dis ook die optimale tyd om intiem te verkeer want die tweede trimester word nie verniet die ‘goue trimester’ genoem nie. Indien jy of jou maat bang is om seks te hê, kan jy gerus met jou ginekoloog of huisdokter praat. Probeer so taktvol as moontlik wees wanneer jy vir jou man verduidelik dat daar absoluut geen manier is wat hy die baba sal voel of seermaak nie, maak nie saak hoe geseënd hy mag wees nie. Jou liggaam is ’n wonderlike ding en tydens swangerskap leer sy een of twee wonderlike truuks by. Die uterus dien as ’n baie veilige kluis waar jou baba beskerm word deur die sterk mure van die orgaan. Dit is geleë agter jou serviks en word verder beskerm deur amniotiese water. Jou uterus beheer wat in of uit kom en tensy jou maat ’n SOS (seksueel oordraagbare siekte) het, behoort enige smeermiddel veilig te wees.

 

Jou baba sal ook nie getraumatiseerd wees later in sy of haar lewe nie. Alhoewel babas gedempte geluide kan hoor, verstaan hul glad nie die geluide wat hul hoor nie. Indien jou ongebore baba enige iets agterkom, sal dit heelmoontlik ’n sussende effek op hom hê. 

Dit is ook normaal om heeltemal afgesit te wees van seks tydens jou swangerskap. Baie vrouens voel ontuis in hul eie liggaam of voel bloot te sleg om enigsins intiem te raak. 

 

Probeer is die beste geweer en jy sal dalk ’n paar dinge eers moet probeer voor jy volkome gemaklik raak met swanger seks. 

 

*Raadpleeg jou dokter indien jy enige swaar bloeding of pyn ervaar na seks.

 

Read 425 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account