Ma gee outistiese aangenome kind terug Featured

Myka Stauffer, ’n Youtube-ma en haar man, James, het in Mei vanjaar aangekondig hulle het besluit om hulle outistiese seun (4), wat hulle byna drie jaar gelede uit China aangeneem het, weer vir aanneming op te gee.

Stauffer is ’n ma van vier biologiese kinders en het tans 700 000 Youtube-intekenaars.

Om verskoning

’n Maand later, op 24 Junie 2020, het Stauffer op haar Instagram-profiel om verskoning gevra vir die hartseer wat sy veroorsaak het.
 “Ek wil verskoning vra vir die oproer en die volle verantwoordelikheid neem vir al die seer wat ek aangerig het. Hierdie besluit het vir soveel mense hartseer veroorsaak en ek is jammer dat ek soveel vroue wat na my as ’n ma opgekyk het, in die steek gelaat het.”

Sy het voortgegaan om te sê sy kon nie die voorvalle wat op private vlak plaasgevind het, voorspel nie.

Video’s voor aanneming

Die Stauffers het video’s oor hulle seun, Huxley, begin maak nog voordat hulle hom amptelik aangeneem het. In een van die video’s het Stauffer gesê sy wil ’n kind met spesiale behoeftes aanneem en is reg vir ’n groot verskeidenheid van mediese toestande. “My kind kan nie teruggegee word nie.”

Volgens ’n video, wat nou verwyder is, sê die Stauffers dat daar insidente met Huxley was, maar sê glad nie wat presies gebeur het nie. Hul beweer dit is om sy privaatheid te beskerm.

Sedert die aankondiging het mense hulle mening oor die situasie openlik op sosiale media uitgespreek. Alhoewel daar wel mense was wat vir Stauffer ondersteun het, het meeste gevoel sy is ’n narsis wat net ’n kind aangeneem het om ’n fortuin uit hom te maak.

Stauffer het sedertdien die aankondiging omtrent 30 video’s van Huxley van haar sosiale media verwyder.  

Read 72 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account