Moomie pa van die week...Stehan Carstens Featured

Stehan (30) se liefde vir sy twee dogters is duidelik sigbaar.

Stehan is beslis ’n ingeligte pappa wat ons nie oor ouerskap kon vasvra nie. Sy gesin is vir hom baie belangrik.

Hoe het ouerskap jou lewe verander?

Dit is moeilik om dit in woorde te beskryf. Ek dink behalwe die verantwoordelikheid wat ’n mens nou as ouers het, bring dit ons ook nader aan mekaar. Ek en my vrou is ’n span, ons werk saam met die kinders. Daar is nou klein mensies wie se belange jy bo jou eie moet stel. Ouerskap is wonderlik en fantasties, maar kan ook moeilik wees. Maar op die ou end maak dit van ons ’n hegte familie.

Wat is jou verantwoordelikheid teenoor jou kinders as pa?

Ek het hierdie eendag op Facebook gesien en dis iets wat my bybly: “A father’s job isn’t to teach his daughter how to be a lady, it’s to teach her how a lady should be treated.” Dit het my laat besef ’n man moet nie net sy dogters se rots wees nie, maar ook ’n voorbeeld vir hulle. Ek moet vir hulle wys hoe ’n vrou behandel moet word. Dit is my verantwoordelikheid om hulle my alles te gee en hulle die regte dinge van die lewe te leer.

Wat leer jy by jou kinders?

My kinders het my geleer dat die lewe eintlik baie eenvoudig kan wees. Ek het besef dat ek onnodige goed belangrik geag het. Hulle het my ook geleer om die klein dingetjies van die lewe te waardeer en te fokus op dit wat saakmaak.

Hoe reageer jy as jy kind 'n tantrum in die publiek gooi?

Meeste van die tyd gooi ek sommer ook een saam met haar!

Het jy ook in die nag opgestaan?

Ja! Met Ava-Bella (3) het ons beurte gemaak, maar met Lika Grace (1) het ek steeds met Ava-Bella gehelp terwyl Mamma met Lika besig was. Ek staan wel steeds op om vir hulle albei te gaan bottels warm maak.

Het jy tyd vir middagslapies oor naweke?

Behalwe dat ek net een middag per week het om ’n middagslapie te vat, laat die kinders my nie regtig toe nie. Ek probeer slaap as my vrou (Yovanka) en Lika slaap, maar Ava hou nie daarvan om alleen wakker te wees nie.

As jy vir ’n naweek alleen na die kinders moet kyk, wat sal jy anders doen as wanneer Mamma daar is om ’n handjie by te sit?

Yovanka doen alles perfek as ma, so ek sal nie iets probeer verander nie. Ek sal soos meeste pappas seker maar net chill.

Waarvan hou jy wat jy graag vir jou dogters sal wil leer?

Ek sal hulle graag wil leer hoe om golf te speel, maar net beter as wat ek speel.

Wat is julle gunsteling-speletjie?

Enigiets wat hulle gelukkig maak en laat lag. Hulle hou van buite wees, so ons speel graag buite. Hulle geniet dans en musiek ook baie.

Watter kinderstories irriteer jou die meeste?

LOLLOS!!! My kop wil my Lollos!!!

As een van jou kinders ’n koors van 40 grade het, wat sal jy doen, vir hulle gee?

Na ’n lekker bad, sal ek ’n setpil gee. Ons het ook ltyd Neurofin en Calpol byderhand vir pyn en koors.

Sonder enige hulp, wat beteken die volgende / of wat is dit?

Babymoon:

Dit is ’n vakansie vir die ouerpaar voor die baba se geboorte.

Baby blues:

Dit is die moods nadat baba gebore is. (Ek is eintlik nie heeltemal seker nie).

Pajama drill:

Dit is die nagskof, aande opstaan, ens.

Trolls:

’n Cool fliek

Bepanthen

Dit is boudsalf.

Wat is ’n pa?

’n Pa is iemand wat daar moet wees vir sy kinders in alle omstandighede. Hy moet lief wees vir sy kinders en vir sy vrou. Hy moet ook ’n goeie voorbeeld stel vir sy kinders. ’n Pa moet sy kind se beste maat wees, maar hulle ook respek leer. Baie mans sal sê ’n pa moet die rots van die gesin wees, maar tog weet die meeste van ons dat ’n ma eintlik die rots in die huishouding is. Ek leer eintlik nog elke dag wat dit is om werklik ’n pa te wees, maar ek geniet elke oomblik daarvan. - Alta van Wyk

Read 415 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account